Welsyn
WAT IS HUIS ELDAD?
Huis Eldad is die naam van twee ten volle toegeruste pleeghuise geleë in Randfontein. Tans huisves ons in die een huis ses kleuters en in die ander huis ses peuters, waarvan die meerderheid met die HIV-virus besmet is. Ons doel is om vir hierdie verwerpte kinders ‘n huis van liefde en sekuriteit te gee, sodat hulle ook ‘n kans op ‘n normale lewe kan hê.
Die projek word gelei deur Pastoor Gerrit Pretorius.
BABAHUIS
Die babahuis het aanvanklik ‘n bietjie langer as die kleuterhuis gevat om vol te raak, maar dit is sedert vroeg 2007 reeds vol. Somtyds word ‘n kind weer aangeneem, maar die behoefte is (weereens) so groot dat geen bed of bababedjie ooit lank leeg staan nie. Dié huis akkomodeer ook ses kinders en die huisouers.
Hierdie kinders se ouderdomme kan enigiets van geboorte tot 2 jaar oud wees. Wanneer hulle ouer word sal daar in die kleuterhuis of ander kinderhuis vir hulle plekgemaak moet word.
KLEUTERHUIS
Daar is so groot behoefte in ons land dat hierdie huis skaars oop was, toe is dit reeds vol. Die kleuterhuis akkomodeer 6 kinders en nattuurlik ook die huisouer. Die kinders is almal 3-5 jaar oud. Vyf van hulle is alreeds in die kleuterskool. Hier kry hulle goeie basiese opvoeding wat hulle voorberei op die toekoms.
Hoewel die kinders al minstens 2 jaar onder ons sorg is, kom hulle uit haglike omstandighede uit. Een van die kinders in hierdie huis is byvoorbeeld langs die pad opgetel, ‘n ander uit ‘n vullisblik gehaal en ‘n ander by ‘the door of hope’ ingegee.
FONDSE EN DONASIES
Alhoewel die staat van die kinders subsideer, is die lewenskostes so hoog dat ons nie sonder donasies kan funksioneer nie. Die kostes om die twee huise te onderhou beloop min of meer R14 000 per maand. Ons maak staat op die publiek en goedgunstige besighede, wat saam met ons hande vat om die deure oop te hou. As ons dit nie regkry nie, is daar eenvoudig geen ander heenkome vir hierdie onskuldige gesiggies nie.
Donasies kan in die kerk se bank rekening betaal word.